Blog

Blog

AVBOB Poësieprojek Jaar 2    
Fri, 07 September 2018



Toe die AVBOB Poësieprojek op Mandeladag 2017 aangekondig is, was die hoop – weliswaar nederig en eksperimenteel – dat die aanlyn poësiekompetisie ‘n belangrike sosiale hulpbron vir alle Suid-Afrikaners sou word. Geïnspireer deur die dood van ‘n tweejarige kind, was die doelstelling van die kompetisie om ‘n verbruikersinsig – miskien eerder ‘n verbruikerstragedie – aan te spreek wat AVBOB, as ‘n begrafnisverskaffer, daagliks ervaar: verlies en smart wat letterlik te groot is vir woorde. Een van die eerste dinge wat agtergeblewenes dikwels vir AVBOB vra, is hulp met die opstel van begrafnisbriewe en -pamflette. Wanneer dit gebeur, is gewone woorde ontoereikend. ‘n Nuwe taal – ‘n taal van die hart – is nodig. ‘n Taal wat by uitstek gestalte vind in poësie – die volmaakte medium vir die uitdrukking van verlies.
 
Die kompetisie was oop vir alle Suid-Afrikaners, in al 11 ampstale, in die hoop dat amateur-, sowel as gevestigde digters, te vore sou kom met elegiese gedigte om woorde van troos te bring aan die mense wat dit die nodigste het. Dit was die mikpunt; die eindresultaat het die grootste verwagtinge van almal wat betrokke was by die projek oorskry. 20 774 inskrywings is in Jaar 1 van die kompetisie ontvang.
 
Uit dié totaal is 3 108 aanvaar vir publikasie op die mikrowebwerf, en hieruit is die eerste en tweede wengedigte per taal – dus 22 – gepubliseer in ‘n gedrukte bloemlesing bestaande uit 100 gedigte. Nog 77 gedigte is in opdrag geskryf deur van Suid-Afrika se mees gevierde digters, in al 11 tale. En in ‘n volgehoue strewe na algehele inklusiwiteit – en as deel van AVBOB se eeufeesviering in 2018, was die 100ste gedig in die N|uu-taal, getranskribeer vanuit die woorde van een van die laaste oorlewende sprekers van die taal, Ouma Katriena Esau.
 
Een van die mees verstommende aspekte van die projek was die ontdekking van ‘n florerende gemeenskap van digters regoor Suid-Afrika wat deur die aanlyn poësieportaal in staat gestel is om met mekaar in verbinding te tree. Kommentaar in die sosiale media ruimte spreek van enorme dankbaarheid en verligting omtrent dié sonderlinge geleentheid om hul laste, sowel as hul kuns, te deel. In samehang hiermee, was die toenemende beroep dat die kompetisie ‘n jaarlikse instelling word. Ondersteuning van vername literêre figure, onder meer digter Chris van Wyk en Nobelpryswenner JM Coetzee, het ingestroom en die projek het plaaslike toekennings ingepalm en selfs internasionale aandag getrek danksy ‘n nominasie deur die Media & Marketing (M&M) Global Awards. Alles het daarop begin dui dat poësie uiteindelik ‘n lewendige en veilige hawe, en tuiste, in Suid-Afrika gevind het.
 
Op 1 Augustus 2018 is die tweede jaar van die kompetisie aangekondig, en die resultate is reeds verstommend:
  • Registrasies van nuwe digters in Maand 1 van die kompetisie is 15% hoër in 2018 as in 2017
  • Die totale aantal geregistreerde digters staan tans op 7 756
  • Die aantal gedigte wat in Maand 1 van 2018 ingeskryf is, is 158% hoër as in 2017
  • 787 gedigte is reeds aanvaar vir publikasie op die portaal in Maand 1 van 2018 (dit is reeds 25% van die totale aantal gedigte wat in 2017 gepubliseer is)
  • Die aanvaardingspersentasie van gedigte was 15% in totaal in 2017 en het in Maand 1 van 2017 reeds op 20% te staan gekom
  • Die persentasie van nie-Engelse gedigte vir 2017 was 49%. Vir Maand 1 van 2018 het hierdie persentasie gestyg tot 58%, met inskrywings in Tshivenda wat die grootste proporsionele styging getoon het
  • Die oudste digter wat ‘n gedig vir die 2018 kompetisie ingeskryf het, is 85 jaar oud
  • Die jongste digter wat ‘n gedig vir die 2018 kompetisie ingeskryf het, is 11 jaar oud
  • Die oudste gepubliseerde digter vir die 2018 kompetisie is 76 jaar oud
  • Die jongste gepubliseerde digter vir die 2018 kompetisie is 16 jaar oud
  • 51% van digters wat vanjaar ingeskryf het, val in die 20-29 ouderdomsgroep
  • 66% (twee derdes) van alle inskrywings vanjaar kom uit Gauteng, KZN en die Wes-Kaap
Maar soos altyd is dit die stories agter die statistiek – die mense agter die gedigte – wat die meeste saak maak. Soos die digters wat hul lof aanlyn betuig het vir die projek se inklusiwiteit: “Dit is ongelooflike nuus dat een van Suid-Afrika se eerste nasietale, Khoekhoe, (by die bloemlesing) ingesluit is. Kai gangans, oftewel dankie AVBOB vir jul erkenning van ons Khoe-mense.”
 
Of die digter wat geskryf het: “Dit beteken dat ek myself vryelik, vloeiend en vlot kan uitdruk.” Óf die digters wat voordeel getrek het uit die projek se Facebook-blad, waar sensitiewe leiding rondom die vakmanskap van poësie verskaf word: “Deur die AVBOB Poësieprojek het ek my skryfvaardighede verbeter. Ek dink hierdie projek behoort permanent te bestaan. Ek soek so lank reeds na so ‘n platform.”
 
Of die bemagtiging van verlede jaar se naaswenners wat vanjaar met nuwe entoesiasme brand om te dig. Soos verpleegster Nonhlanhla Mbonani, die tweede-prys isiNdebele-wenner in 2017: “AVBOB, ek het nie nog woorde om my dankbaarheid uit te spreek nie. God het ‘n saad in my geplant wat so kragtig is dat ek nooit gedink het dit sal ooit groei nie, maar julle het dit met hierdie geleentheid gevorm en ingespan. Ek het gegroei en die kuns van skryf by julle geleer. As julle nie my lewe verander het nie, sou ek nie die lewens van ander deur die beweging van my poësie aanlyn kon verander nie.
 
“Dit is geweldig bemoedigend om hierdie tipe terugvoering te kry,” sê AVBOB-bestuurshoof, Frik Rademan. “Ons voorneme was immers vanuit die staanspoor om troos te bring aan diegene wat dit die nodigste het, om ‘n stem en ‘n platform te gee aan dié wat dit nooit gehad het nie. Die beloning vir ons almal by AVBOB is die verwesenlik van die vervulling waarvoor ons gehoop het. En dis nie al nie. Die breër Poësieprojek is besig om sy vlerke te sprei. Met ons borgskap van die Schreiner Karoo Skrywersfees in Julie vanjaar, was ons verantwoordelik vir ‘n reeks poësiewerkwinkels om geletterdheid in die streek te bevorder en te ontwikkel.”
 
Die fees se organiseerder, Lisa Ker, beskou AVBOB se borgskap as paradigma verskuiwend: “Die steun van AVBOB se Poësieprojek het ons jeugprojekte in ‘n nuwe rigting gestuur, en dit het die SKWF in staat gestel om vanjaar ‘n projek te loods waardeur 60 leerders uit Cradock ‘n hele dag met deskundige poësie-afrigters kon deurbring. Ons droom is om ‘n boek in die hande van elke jongmens in die Karoo te plaas. Danksy AVBOB, is ons nou baie nader aan die verwesenliking van hierdie droom. Die 60 Cradock-leerders is trouens uitgedaag om te werk met die tema ‘Woorde van Troos’, in lyn met die projek se bevordering van die helende mag van woorde. Ná die werkwinkel het hulle hul gedigte aan ‘n feesgehoor voorgedra.
 
Vir gevierde en bekroonde skrywer, Etienne van Heerden, het die projek egter ‘n selfs groter doel en betekenis: “Hierdie borgskap het die fees in staat gestel om die diversiteit van tale selfs nog verder te kweek en te koester. Dit het die fees se belegging in die ontwikkeling van jong skeppende talent in al ons gemeenskappe gestabiliseer, en aandag gefokus op die taalkundige diversiteit van die Oos-Kaapse Karoo wat so ‘n simboliese en interessante streek is.”
 
Les bes was die aanlynportaal weer eens die letterlik sprekende bewys van die organiese – en eksponensiële – groei van ‘n gemeenskap van digters wat betrokke is, gretig om werk van die hoogste kaliber te lewer en vasberade om die wydste moontlike gehoor te bereik. Laat die bemagtiging van ons digters ook die mense van Suid-Afrika bemagtig! Die 2018 AVBOB Poësiekompetisie sluit op 30 November 2018.
 



Share: