Blog

Bou brûe deur die krag van poësie: Die AVBOB Poësiekompetisie Jaar 2    
Mon, 10 December 2018



Met die sluiting van die 2018 AVBOB Poësiekompetisie op 30 November, het ons gedink dit is gepas om terug te kyk en na te dink oor wat die projek alles bereik het en hoe dit gegroei het sedert die bekendstelling daarvan in 2017.
 
Twee dinge blyk onmiddellik en besonder duidelik: In die eerste plek is daar die manier waarop die projek ons met mekaar verbind. Teen die agtergrond van nuus en dialoog wat fokus op verdeeldheid en onsekerheid, herinner die AVBOB Poësieprojek ons daaraan dat dit nie saak maak watter taal ons praat, waarvandaan ons kom of waarheen ons op pad is nie – daar is altyd gedeelde menslike ervarings wat ons in staat stel om na mekaar toe uit te reik. In dood, geboorte, liefde, hoop en verlies soek ons almal dieselfde redding, ervaar ons dieselfde emosies en probeer ons almal na die beste van ons vermoë om die meeste betekenis uit hierdie oomblikke te put. Hierin lê die verenigende mag en aantrekkingskrag van poësie.
 
In die tweede plek het ons ontdek dat poësie weliswaar die stem van die volk is, wat dikwels afgeskeep en soms stilgemaak word. Ons het ook besef dat ons Suid-Afrikaners ‘n diep poëtiese siel het, en dat die AVBOB Poësieprojek ‘n oorvloed plaaslike talent ontsluit het deur ‘n platform te verskaf wat ‘n stem aan hierdie talent verleen – in al 11 pragtige moedertale.
 
Hoe anders kan ons verduidelik waarom die aantal gedigte wat ingeskryf is, gegroei het van 20 774 in 2017 tot die 29 133 inskrywings wat ons vanjaar ontvang het? Hoe anders kan ons verstaan waarom die jongste digter wie se werk vir publikasie op die webwerf aanvaar is, slegs 11 jaar oud was, en die oudste 85? Hoe anders kan ons sin maak van die gesprekke wat oor sosiale media platforms heen plaasvind en wat spreek van dankbaarheid vir ‘n platform waar ons uiteindelik uitdrukking kan gee aan ons lewens? Die groei in die kompetesie (bykans 50% meer inskrywings vanjaar) is die sprekende bewys van ‘n behoefte, van ‘n groeiende gemeenskap en van die mag van die woord om te genees en op te hef.
 
En dít was juis AVBOB se grootste droom met die totstandkoming van die projek. AVBOB se hoof- uitvoerende beampte, mnr. Frik Rademan, verduidelik: “Ons het nog altyd die grootste waardering gehad vir die mag van die kunste om mense op te hef. Die kunste voer ons weg van die probleme en eise van ons alledaagse lewens. Daarom het dit vir ons soveel sin gemaak om, in antwoord op ons handelsmerkbelofte, die emosionele en geestelike opheffing van ons mense te borg. Dit is ‘n doelwit wat ons duidelik en grootskaals met die Poësieprojek bereik het. Ons is verheug oor die groei van die kompetisie, en ons wil graag die digters van Suid-Afrika bedank vir hul ruimhartige bydrae tot ons inisiatief om troos te bring aan die mense wat dit die nodigste het.”
 
Die transformerende krag van ‘n gedig moet nooit onderskat word nie. Ons het by verlede se wenners gaan uitvind watter invloed die kompetisie op hul lewens gehad het. Afrikaanse wenner, Lynthia Julius, is dankbaar “vir die geleentheid wat AVBOB my gegee het om my kuns uit te leef, en vir die blootstelling wat ek gekry het deur die kompetisie te wen. Dit is iets wat ek vir altyd sal koester. Die AVBOB Poësiekompetisie het vir my deure oopgemaak om my kuns te verbeter op ‘n manier wat ek nooit kon dink nie.”
 
Die Engelse wenner, Caroline F Archer, voel die AVBOB Poësiekompetisie het haar “met ‘n gevoel van hoop en dankbaarheid gevul. Dit het my lewe verander. Dit is geweldig bevrydend om deel te neem aan ‘n kompetisie wat aan digters hierdie tipe mediablootselling bied, asook die gemoedsrus dat dit sonder enige vooroordeel of voorkennis deur ‘n span bedrewe beoordelaars beoordeel word.
 
Op ‘n meer simboliese vlak, glo sy, dat “ons, deur te skryf, ons pad uit isolasie vind. “Die digkuns gaan oral,” sê sy. “Om te skryf, genees. Ritme is die grondslag van Suid-Afrika se elf tale. Ons hoor die dromslag. Dit voed ons. Om die siel van ‘n nasie te verstaan, moet ‘n mens na hul poësie luister.”
 
Die siNdebele-wenner, Queen Mahlangu, glo die kompetisie het haar insigte gegee wat sy nie andersins sou besef het bestaan nie. “Dit het my die mag gegee om te verstaan dat die heel grootste hartseer is om nie jou eie selfwaarde te besef nie. Dit het my geleer dat poësie een van die dinge is waarvoor ons leef,” sê sy.


Nolusindiso Penxa, die isiXhosa-wenner, se kontantprys het vir haar die geleentheid gegee om ‘n verskil aan haar ma se lewe te maak. Die materiële beloning is egter nie al wat sy op prys stel nie. “AVBOB het my positief gemotiveer om selfs nog meer te skryf, in die wete dat my gedigte mense se lewens kan verander. AVBOB het my laat besef ek kan gedigte publiseer en my eie poësiebundel uitgee, waarmee ek op die oomblik besig is,” sê sy.
 
Die isiZulu-wenner, Kutsi Emmanuel Lindinkosi Mpanza, voel die kompetisie het sy selfbeeld as ‘n digter verander. “Voordat ek vir die kompetisie ingeskryf het, het ek nie veel hoop gehad nie. Die kompetisies waarvoor ek voorheen ingeskryf het, het nie eens ontvangs van my gedigte erken nie. Maar AVBOB het deurgaans met my gekommunikeer, elke keer wat ek gedigte ingeskryf het, en dit het my aangemoedig. Sedertdien het ek daarin geslaag om my eie poësieversamelings, Amaqabungaen Rainbow Mirage,te publiseer, en mense het vertroue in my werk, omdat die reus AVBOB my op die hande gedra het.”
 
Tieho Mkhendane, die Sesotho-wenner, het lof en respek van sy gemeenskap ontvang nadat hy sy prys verower het. “AVBOB het my lewe op so baie maniere verander dat ek nie eens weet waar om te begin nie,” sê hy. “‘n Plaaslike radiostasie het selfs ‘n onderhoud met my gedoen en ek het erkenning en ondersteuning van die pers gekry. My selfvertroue het ook verbeter. Die heel belangrikste is dat die kompetisie my in verbinding gebring het met mense wat my potensiaal raaksien. Danksy AVBOB het my lewe ‘n ongelooflike wending geneem. Ke a leboha (dankie), AVBOB!”
 
Die Setswana-wenner, Nthabiseng Cujane, het geleer om mense hoop te gee deur haar gedigte. “Ek het my innerlike stem uitgeskryf sodat ek myself en ander mense kon genees. Die feit dat ek vir hulle hoop kon gee, het my gehelp om vir hulle te verduidelik dat die lewe aangaan en dat hulle nie moet moed verloor nie.” Die kompetisie het haar ook die nodige druk en motivering gegee om haar digtersvaardigheid te slyp. “Die kompetisie het my regtig gedruk om elke dag te skryf. Ek voel skryf is nou in my bloed,” verduidelik sy.
 
Die kompetisie het ook die Sepedi-winner, Mosima Phakane, se selfvertroue ‘n hupstoot gegee. “Voordat ek ingeskryf het, het ek nie gedink my gedigte verdien om in ‘n boek of op ‘n webwerf te verskyn nie, veral nie tussen die werk van bekende digters wat hulle jare lank al op die skryfreis bevind nie. Ek het ook nie geweet by wie ek kan aanklop vir leiding om beter gedigte te skryf nie. Om te wen, het my in verbinding gebring met digters en redakteurs regoor die vasteland. Ek het ontdek ek inspireer baie mense deur onderhoude en sosiale media, en ek het my ouers en almal rondom my trots gemaak. Deesdae gee ek ook leiding aan mense wat wil skryf, oor maniere waarop hulle hul werk kan verbeter en die ink kan laat bly vloei.”
 
Die Siswati-wenner, Thembi Gwebu, sê die kompetisie het vir haar ‘n manier gebied om haar emosies uit te druk en haar ervarings te deel. “Selfs wanneer ek nie kan praat oor wat my seermaak nie, help skryf my om deur die pyn te werk,” verduidelik sy. “’n Pen en papier is my beste vriende. Om vir AVBOB te skryf, het my vaardighede verbeter. Ek het myself nooit voorheen as ‘n skeppende persoon beskou nie, en ek was verras deur die aantal gedigte wat in die loop van die kompetisie aanvaar is.”
 
Ngwedzeni Tshovhota, die Tshivenḓa-wenner, is ‘n geruime tyd reeds ‘n skrywer, maar het nooit die tipe erkenning ontvang wat hy na sy Poesiëkompetisie-oorwinning geniet het nie. “Opkomende digters, oud en jonk, kontak my vir advise. Dit is wonderlik om ‘n mens se kennis tot voordeel van ander te deel,” vertel hy. “AVBOB maak vir ‘n mens deure oop. My vertroue as ‘n digter het gegroei, en in die eerste kwartaal van volgende jaar word my boek uitgegee. Die gedigte wat ek nou skryf, gaan oor die genesing van mense se wonde en om hoop in mense aan te wakker.” Daarvoor sê hy: “Baie dankie, AVBOB. Deur julle kon ek myself herontdek.”
 
Die kompetisie was ook vir die Xitsonga-wenner, Mashimbye Owners Hluvukani, ‘n reis van selfontdekking, ‘n leerkurwe en ‘n plek om deernis op die mees kunstige manier uit te druk. Hy verduidelik: “Ek het baie potensiaal in myself ontdek en in die rol wat my poësie in tye van wanhoop en rou in die samelewing kan speel. Ek het ‘n bron van inspirasie vir baie jong aspirantdigters geword. Ek kry gereeld versoeke om gedigte by verskillende geleenthede te skryf en voor te dra, en dis die beste gevoel in die wêreld om hoop te laat herleef en ‘n glimlag te sit op die gesigte van mense wat dit die nodigste het.” 
 
Die kompetisie het ongetwyfeld ‘n sterk band tussen die digters en die mense van Suid-Afrika geskep en sodoende die blywende waarde van poësie as ‘n belangrike sosiale hulpbron bevestig. In die woorde van hoofredakteur, Johann de Lange: “In ‘n komplekse land soos ons s’n, is dit baie maklik om te voel ‘n mens leef op ‘n eiland. Maar as jy ‘n liefhebber van die poësie is, hoef jy nooit alleen te voel nie. Deur poësie te lees, bou ‘n mens heeltyd brûe. Die AVBOB Poësieprojek was en 'is as’t ware ‘n enorme en manjifieke bouprojek: kompleks, maar lonend op al die maniere waarop die ontdekking van ‘n ander kultuur kan wees. Lieflik, gebou uit woorde.”
 
Die AVBOB Poesieprojek bou inderdaad momentum, en die statistieke spreek vanself:

 
Jaar-vir-jaar opsomming Maand 4 2017 Kompetisie 2018 Kompetisie Jaar-vir-jaar toename
Totale aantal geregistreerde digters 6 098 11 382 86%
Gedigte ingedien 20 774 29 133 40%
Gedigte aanvaar & gepubliseer 3 108 3 574 15%

Die wenners van die 2018 AVBOB Poësiekompetisie sal in 2019 aangekondig word. Besoek www.avbobpoetry.co.zavir ‘n versameling uitsonderlike gedigte deur plaaslike skrywers.