Blog

Blog

Laaste kans om ‘n gedig te skryf wat uitreik na ander in nood… in al die stemme van ons land    
Fri, 09 November 2018



Die 2018 AVBOB Poësiekompetisie staan einde se kant toe, en daar ‘n tasbare gevoel van dringendheid onder digters, sowel as redakteurs. Daar is ook natuurlik min dinge wat kan meeding met ‘n bietjie druk om potensiaal en kreatiwiteit te ontsluit, en juis daarom moedig ons alle aspirantdigters daarbuite aan om hierdie geleentheid aan te gryp om diep, roerende poësie te skep.
 
Terwyl die kompetisie op 30 November om 23:59 sluit, simboliseer die AVBOB Poësieprojek in alle opsigte ‘n nuwe begin – die begin van ‘n gevestigde platform vir digters om met mekaar te skakel, die daarstel van ‘n portaal waar die beste Suid-Afrikaanse poësie geskep word, en die begin van ‘n voetsoolvlak-beweging wat ‘n kunsvorm bevorder wat dikwels misgekyk word terwyl dit eintlik ‘n ontlosmaaklike deel van ons menswees vorm. Poësie is die skakel wat ons innerlike wêreld met die buitewêreld verbind; dit is die vonk van potensiaal buite die daaglikse ritme van ons lewens… daardie universele element, ‘n ritueel as’t ware, wat ons vry maak van die alledaagse en ons na ‘n hoër vlak voer.
 
Poësie is van diepe belang vir die psige van die mens, en daarom was dit ons redakteurs se passie en prioriteit om net die allerbeste gedigte te kies, met die kragtigste, mees roerende boodskappe, om getrou te bly aan ‘n mandaat wat belowe om ‘n toonaangewende smeltkroes van poëtiese uitnemendheid te skep wat nie net sonderlinge vertroosting aan agterblywendes bied nie, maar wat ook die ryk talent ontsluit wat braak lê in ons land.
 
Dit is uiteindelik die meertaligheid van die gedigte wat die grootste gawe van hierdie projek is – wat sorg vir ‘n kaliber diep, inklusiewe ervaring wat nog nooit vantevore in Suid-Afrika ervaar is nie. In die woorde van AVBOB se bestuurshoof, Frik Rademan: “Daar lê iets kragtigs opgesluit in die vermoë om in aldie stemme van ons land te kan praat. Dit sluit aan by AVBOB se onwrikbare verbintenis tot inklusiwiteit en ons toewyding aan al ons mense. Ons doel was om ‘n ryk tapisserie van Suid-Afrikaanse stemme te skep om hoop en genesing te bring aan mense wat rou.”
 
Waar anders kan ‘n negejarige én ‘n 90-jarige hul woorde van wysheid met die wêreld deel? Waar anders sien mens ‘n golf van poësie wat ‘n land deurspoel – van Cullinan deur Kuruman tot in Kaapstad? Waar anders sien jy ‘n polifoniese samekoms van elke ampstaal van SA? En waar anders sien ons ‘n jeugkultuur wat ontdek dat poësie ‘n taal is waardeur hulle hul waarheid kan praat? – die gemiddelde ouderdom vir digters wat vir die kompetisie inskryf is 20-29.
 
Terwyl die 2017 AVBOB Poësiekompetisie in die eerste drie maande 11 016 inskrywings opgelewer het, met ‘n verstommende 878 op die laaste dag, is vanjaar se resultate, tot met die einde van Oktober, selfs nóg meer indrukwekkend, met 13 944 inskrywings:


Kyk ‘n mens terug na 2017, blyk dit dat ons gemeenskap van geregistreerde digters gegroei het van 4 275 tot ‘n merkwaardige 9 602 in 2018. Nog ‘n dramatiese verskil is die stewige styging in die aantal Zoeloe-, Tsonga-, Ndebele-, Venda- en Siswati-inskrywings wat die dominansie van Engelse gedigte in die kompetisie aanveg.
 
Nog ‘n noemenswaardige verskil in die 2018-kompetisie was die besluit om inskrywings te beperk tot 20 gedigte per digter. Die doel hiervan was om digters aan te moedig om slegs hul beste werk aan te bied vir publikasie op die webwerf. Op aandrang van die digters self, is dié limiet egter verhoog na 30 gedigte per digter. En, in ‘n poging om die pragwerk van ons plaaslike digters ten toon te stel, sal die gedrukte bloemlesing wat uit die kompetisie voortspruit meer fokus op die brawe werk van ons amateurdigters, met minder digters wat in opdrag skryf.
 
Teen hierdie agtergrond moedig ons alle digters aan om hierdie laaste geleentheid aan te gryp om woorde van vertroosting in hul moedertaal te skryf en so uit te reik na iedereen wat in hul oomblik van nood hierdie genesing nodig het. Afgesien hiervan, kan digters ook R300 per gedig in gebruiksreg verdien en ‘n kans staan om die AVBOB Poësieprys in elke taalkategorie te wen. Dié prys bestaan uit ‘n unieke trofee, R10 000 kontant en ‘n R2 500 boekbewys. So, as jy ‘n digter is, waarom wag? Skryf nóú in by www.avbobpoetry.co.za



Share: