Blog

Die einde van die AVBOB poësiekompetisie 2017    
Fri, 15 December 2017



Skryf iets … raak iemand: Meer as 20 000 gedigte ingeskryf met woorde van hoop en genesing in die AVBOB Poësiekompetisie.
 
Die AVBOB Poësiekompetisie is finaal gesluit vir inskrywings.
 
Toe ons met die AVBOB Poësieprojek begin het, sou ons nooit die verstommende reaksie kon voorspel nie: 20 774 gedigte, in al 11 ampstale, wat met soveel moed ingeskryf is deur 6 060 digters van regoor Suid-Afrika. 3 108 van hierdie gedigte is vir publikasie aanvaar deur die redakteurs op die AVBOB Poësie mikrowerf, en digters is beloon met R300 per gepubliseerde gedig vir gebruiksregte.
 
Inskrywings is vanuit al nege provinsies ontvang, met Gauteng – klaarblyklik die poësie-hartland van Suid-Afrika – wat vir 41% van die inskrywings verantwoordelik was. Die tweede plek is behaal deur die Wes-Kaap en KZN met net onder 20% van die inskrywings. Digters het hul onuitwisbare woorde van hoop en verlossing, verlies en verlange, liefde en vertroosting in al 11 ampstale ingeskryf. Die feit dat meer as 50% van die gedigte in Engels was, suggereer dat dit  die verkeerstaal van digters is. ‘n Aansienlike persentasie Afrikaanse, isiZoeloe en isiXhosa gedigte is ook ontvang. Die ouderdom-spektrum van die kompetisie was merkwaardig: die jongste digter was slegs 10, en die oudste… ‘n inspirerende 97. Die jongste digter wie se werk vir publikasie aanvaar is, was slegs 16, en die oudste 84. Les bes is 878 gedigte op die laaste dag van die kompetisie ontvang, wat daarop dui dat die momentum rondom die wedstryd steeds toeneem.
 
Dit is egter die stories agter die statistiek wat die meeste tref en roer, byvoorbeeld die 12-jarige digter wat haar emosies uitgestort het omtrent die dood van haar pa. Hoewel haar gedigte nie vir publikasie aanvaar is nie, het die Engelse redakteur van die kompetisie – die bekroonde digter Douglas Reid Skinner – baie moeite gedoen om met ‘n diep-persoonlike antwoord op haar navraag vorendag te kom, wat uiteindelik bykans ‘n meestersklas in poësie vir die jong digter was.
 
Hy het met groot sagmoedigheid verduidelik dat die standaarde besonder hoog wa – juis omdat dit ‘n oop kompetisie was – en dat redakteurs daarom op soek was na die allerbeste gedigte, ongeag ouderdom, geslag, ras of sosiale status. Hy het verder die kuns van poësie skryf vir haar omskryf, kompleet met voorbeelde van asemrowende gedigte om elke punt te beklemtoon.  Hierdie vlak van sorg en betrokkenheid het elke raakpunt van die kompetisie gekenmerk.
 
En dit was ook vanuit die staanspoor AVBOB se voorneme vir die Poësieprojek: om ‘n plek van rus en vertroosting te bied vir alle Suid-Afrikaners, en om ‘n biblioteek – en uiteindelik ‘n bloemlesing – van hoop en genesing te skep waaruit alle Suid-Afrikaners kan put in hul tyd van nood en verlies.

AVBOB se bestuurshoof, Frik Rademan, sien dit as ‘n vergestalting van AVBOB se missie, en ‘n uitnemende voorbeeld van die sorg wat hulle aan polishouers bied. Die inspirasie vir die kompetisie het trouens gespruit uit mense se onvermoë om verlies en ontreddering te verwoord.  Rademan verduidelik: “Een van die eerste dinge wat baie mense vra wanneer hulle na ons toe kom, is of ons hulle met die begrafnisbrief kan help”. En teen hierdie agtergrond het poesië die unieke vermoë om emosie saam te vat én te vang, en om ons diepste gedagtes te artikuleer, wat dit die volmaakte medium maak om uiting te gee aan verlies. Daarbenewens, in die woorde van Frik Rademan, “behoort poësie aan ons almal; dit is die eiendom van die mense.”
 
En die mense het gereageer deur wat uiteindelik gesien kan word as ‘n kollektiewe katarsis – ‘n uitstorting van emosie, deur die medium van poëtiese taal.
 
Die AVBOB Poetry Facebook-blad het behoorlik gegons met kommentaar van aspirant-digters: “Dit is regtig wonderlik om die vryheid te ervaar van ‘n platform wat... slegs vir digters is. Daar is ander digters daarbuite wat wag om hul penne en duime vir ‘n oomblik te laat bloei – dooie digters wat wag om lewe by hul harte in te spreek,” sê Tumi. Ander het ‘n soortgelyke dankbaarheid vir die platform gedeel:  “AVBOB het vir ons hierdie besondere geleentheid gegun om onsself op skrif uit te druk.”
 
Die redakteurs van die kompetisie was eweneens geroer deur die ervaring.  Baie van hulle het gevoel asof hulle die diepste siel van Suid-Afrika uitgedelf en die pyn en hartseer daar ontdek het, maar tegelykertyd en in gelyke maat, hoop en verlossing. “Hoewel die tema van die kompetisie sterflikheid was, was hoop die kategorie waarin ons die meeste gedigte ontvang het,” sê hoofredakteur en digter, Johann de Lange. “En dit is met ‘n tipe stadiggroeiende vreugde dat ‘n mens besef dat, ten spyte van die probleme wat ons land en sy mense tans ervaar, nie almal hoop opgegee het nie.”
 
En dit was presies die mikpunt van AVBOB se Poësiekompetisie. In die woorde van Frik Rademan: “AVBOB was oor die jare heen ‘n trotse ondersteuner van die kunste in ons land.  Ons het nog altyd geglo dat die kunste emosionele en intellektuele opheffing aan al ons mense bied, en dat dit ‘n manier is om hulle van die probleme van die alledaagse lewe te bevry.”
 
Met die sluiting van die kompetisie, is die volgende mylpaal die aanwysing van die wenners van die prestigeryke AVBOB Poësieprys – een in elke taalkategorie – asook die samestelling van ‘n gedrukte bloemlesing, bestaande uit 100 gedigte wat in Augustus 2018, ter viering van AVBOB se honderdjarige bestaan, sal verskyn. Les bes en uiteindelik was die AVBOB Poësiekompetisie egter ‘n viering van die mense van Suid-Afrika, wat met soveel moed hul diepste hoop en drome deur die kragtige medium van poësie gedeel het.
 
Hou die media dop vir besonderhede omtrent die 2018 AVBOB Poësiekompetisie.